HUISGELOOF

Pinkster is ’n fees vol blydskap wat uitdrukking gee aan ons geloof dat God sy werk in ons sal voltooi. Wat Hy deur Jesus Christus doen, vind deur die Heilige Gees in die lewe van sy kerk neerslag. Só voltooi God alles wat Hy op aarde, maar ook in elke mens se lewe tot stand bring.

Pinksterfees het ten doel om gelowiges te herinner aan die wonder dat die Heilige Gees God se verlossing in ons voltrek. God bly nie die “vreemde” Wese in die verte nie, maar is die Een wat in ons almal met liefde, vreugde en vrede leef en werk.

Elke Christen word opnuut genooi om sy of haar deelname aan die volheid van God se werk met vreugde te omhels. Ons kry geleentheid om te juig daaroor dat God “ons” vermoëns en bydraes deel van sy volheid laat word.