Skrifoordenking

Matteus 26:36-46

Jesus, wat kort na hierdie gebeure waarvan ons lees die volmaakte en finale Paaslam sou wees, het saam met Sy dissipels in die bovertrek van ’n huis in Jerusalem die paasmaaltyd genuttig (26:26-30). Tydens die maaltyd het hulle saam brood geëet en wyn gedrink. Dit brood en wyn sou in die eeue daarna tydens die nagmaalviering gebruik word. Na ete het hulle na die tuin van Getsemane teen die Olyfberg gegaan.
Jesus het doodsbenoud gevoel en was diep ontsteld oor Sy komende lyding. Die aanvoeling en wete dat Hy op sy afstuur, was vir Hom soos enige ander mens in dergelike omstandighede ’n diep geestelike en fisiese worsteling. Hy sê vir sy dissipels dat hulle saam met Hom moet waak terwyl Hy tot Sy Vader bid. As gevolg van daardie worstelstryd het Hy volkome begrip vir ons stryd en lyding. Deur Sy verhouding met God die Vader het Hy die krag gehad om gehoorsaam te wees. Die Vader is ook die bron van ons krag!
Dan lees ons in vers 39 dat Jesus nie opstandig was teen die wil van die Vader toe Hy gevra het dat die lydensbeker van Hom weggeneem moes word nie. Inteendeel, die feit dat Hy spesifiek gevra het dat die Vader se wil gedoen moes word, het bevestig dat Hy onder alle omstandighede Sy Vader se wil wou doen. Sy gebed vertel vir ons meer omtrent die verskriklike lyding wat Hy moes deurmaak.
En ons kan, mag en moet ook bid: “maar soos U wil” (vers 39), want ons bid tot ons hemelse Vader wat ons tog baie goed ken en wat Sy skeppingswerke steeds onderhou en daaroor regeer. Om te bid “soos U wil” is eintlik ’n uiters ongemaklike saak wat ons vra, want hoe moet ons die wil van God verstaan as ons die bitterste beproewing moet deurworstel en bid om genesing en uitkoms en dit gebeur nie? En dan, wanneer die ergste dan tog nog gebeur nadat ons so mooi gevra het, hoe kan God sê dat sy wil alleen maar GOED is?
Christus is vir ons ’n voorbeeld van hoe om 100 persent aan God en Sy wil gehoorsaam te wees, dit maak nie saak wat met jou gebeur nie. Dit gaan hier oor Jesus se gehoorsaamheid tydens Sy lyde wat van Hom gevra word sodat Hy volkome vrywillig, sonder Sy eie wil, aan die wil van die Vader alleen gehoorsaam en steeds blymoedig sal wees.
Daar in die tuin van Getsemane sien ons Jesus onder die leiding van die Heilige Gees bid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Hy onderwerp Hom ten volle onder die wil van God. Dit gaan nie oor Homself nie. Nee, dit gaan oor God wat deur Christus se lyde en dood verheerlik moet word.
In so ’n algehele onderworpenheid kan ons ook bid en aan God se wil gehoorsaam bly. Daarin moet ons berus. Vir Christus het die lydensbeker nie verbygegaan nie. Hy moes dit drink, Hy moes sterf, en in hierdie onvoorwaardelike gehoorsaamheid moet onsself vrede en kalmte vind. So het Christus troos, krag en sterkte in sy lydensweg ontvang. So het Hy opgestaan en Sy kruis in volle gehoorsaamheid aan die wil van sy Vader tegemoet gegaan. Hy het nie ’n enkele keer sy eie belange vooropgestel nie. So is sy gebed verhoor, al wag daar pyn en lyding op Hom – dit is die wil van God.
Ons moet God dank vir Sy genade in en deur die Grootste Verlosser en Middelaar, wat ons deur Sy Gees elke dag kan help om die wil van ons Vader te doen. Laat Sy wil in ons lewens geskied, en weet verseker dit sal enkel en alleen net goed wees vir ons.